Suikers
Suikers is soet en oplosbare koolhidrate met die algemene formule Cx(H2O) wat in twee hoofgroepe, mono- en disakkariede, verdeel kan word.
Monosakkariede
wysigMonosakkariede kan nie verder afgebreek word deur middel van hidrolise nie en bevat 'n enkele ketting van koolstofatome. Hulle benamings het meestal die agtervoegsel -ose en 'n voorvoegsel wat van Griekse telwoorde afgelei is en die lengte van hul koolstofketting aandui – trioses, tetroses, pentoses, heksoses en heptoses bevat sodoende onderskeidelik drie, vier, vyf, of sewe koolstofatome.
Monosakkariede, wat algemeen in die natuur voorkom, sluit heksoses (C6H12O6, waaronder ook glukose) en pentoses (C5H10O5, waaronder xilose) in. Daar is 'n groot aantal isomere van hierdie suikers, waarvan die name dikwels ook hul oorsprong of eienskappe aandui: Fruktose kom in die natuur in vrugte voor, arabinose in die plantekstrak Arabiese gom en xilose ('n pentose) in hout.
Disakkariede
wysigDisakkariede bevat twee eenhede van monosakkariede wat deur 'n suurstofbrug met mekaar verbind word. Hul chemiese en fisiese eienskappe kom grootliks ooreen met dié van monosakkariede. Die belangrikste disakkariede is sukrose (algemeen bekend as tafelsuiker, wat as riet- of beetsuiker aangebied word), laktose en maltose.
Soetheid
wysigIndien aan sukrose of tafelsuiker 'n teoretiese waarde van 100 ten opsigte van sy soetheid toegeken word, kan die soetheid van ander suikers en sakkarien, 'n kunsmatige versoeter wat in plaas van suiker gebruik word, soos volg bepaal word:
Suiker of versoeter | Soetheid |
---|---|
Laktose | 16 |
Maltose | 33 |
Xilose | 40 |
Glukose | 74 |
Sukrose | 100 |
Fruktose | 173 |
Sakkarien | 55 000 |
Eksterne skakels
wysig- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Suikers.
- Wikiwoordeboek het 'n inskrywing vir suiker.