’n Wilde kind, soms ook ’n wolwekind genoem, is ’n menslike kind wat van ’n vroeë ouderdom af alleen in die natuur oorleef en geen kontak met ander mense gehad het nie. Hy het dus geen of min ondervinding van menslike sorg, gedrag en taal. Daar is verskeie bevestigde én spekulatiewe gevalle.

Mowgli was ’n fiktiewe wilde kind in Rudyard Kipling se The Jungle Book.

Wilde kinders kon erg mishandel gewees of trauma ondergaan het voordat hulle aan hulle lot oorgelaat is of van die huis af weggeloop het. Hulle is soms die onderwerp van folklore en legendes, en word gewoonlik uitgebeeld as dat hulle deur diere grootgemaak is.

Beskrywing

wysig

Wilde kinders ontbreek die basiese sosiale vermoëns wat gewoonlik deur ’n kind aangeleer word. Hulle is dalk nie in staat om te leer hoe om ’n toilet te gebruik nie, leer moeilik regop loop nadat hulle lank hande-viervoet gekruip het, of toon ’n algehele gebrek aan belangstelling in die menslike bedrywighede om hulle. Hulle kom dikwels verstandelik gestrem voor en kan soms glad nie ’n taal aanleer nie.[1]

Min wetenskaplike kennis bestaan oor wilde kinders. Een van die bes gedokumenteerde gevalle was veronderstel om die een te wees van die susters Amala en Kamala wat in 1926 deur eerwaarde J.A.L. Singh beskryf is. Hulle is glo in ’n woud in Indië deur wolwe grootgemaak. Die Franse chirurg Serge Aroles het egter gereken dit is ’n bedrogspul wat deur Singh uitgedink is om geld vir sy kinderhuis in te samel. Volgens die kindersielkundige Bruno Bettelheim is Amala en Kamala fisiek en verstandelik gestrem gebore.[2]

Tog bestaan daar ander wetenskaplike studies oor wilde kinders, soos die geval van Genie.[3]

Geskiedenis

wysig

Voor die 1600's was verhale van wilde kinders gewoonlik tot mites en legendes beperk. In dié verhale is beskryf hoe wilde kinders kos soek, hande-viervoet loop en geen taal ken nie. Filosowe en wetenskaplikes het belanggestel in die konsep van sulke kinders en het begin wonder of hulle dalk van ’n ander spesie van die menslike familie is.

Die vraag is ernstiger opgeneem toe die wetenskap in die 18de en 19de eeu probeer het om die ontwikkeling van die mens te benoem en kategoriseer, en die natuur beter te verstaan.[4] Omstreeks die 20ste eeu het sielkundiges probeer onderskei tussen biologiese gedrag en kultuur. Wilde kinders wat afgesonder of saam met diere gewoon het, het voorbeelde van dié dilemma verskaf.

Aangetekende gevalle van wilde kinders

wysig

Deur primate/ape grootgemaak

wysig
  • Marina Chapman het beweer sy het tussen die ouderdomme van vyf en nege jaar in die woude van Colombia saam met ape gewoon ná 'n mislukte poging tot ontvoering in omstreeks 1954.[5] Sy het later getrou, kinders gehad en 'n grootliks normale lewe gelei sonder blywende probleme, wat ongewoon vir 'n wilde kind is.
  • Robert Mayanja (1982) het op sowat drie jaar sy ouers in die Ugandese Burgeroorlog verloor toe Milton Obote se soldate hulle dorpie, sowat 80 km van Kampala af, geplunder het. Robert het vermoedelik drie jaar lank saam met ape in die natuur oorleef, totdat soldate van die Nasionale Weerstandsleër op hom afgekom het.[6]
  • Saturday Mthiyane (1987), 'n seun van sowat vyf jaar oud, is ontdek nadat hy sowat 'n jaar saam met ape in KwaZulu-Natal, Suid-Afrika, deurgebring het. Hy is Saturday gedoop omdat hy op 'n Saterdag gevind is, en Mthiyane was die van van die skoolhoof van die spesiale skool wat haar oor hom ontferm het. Op sowat 17 jaar kon hy nog nie praat nie, en het hy soos 'n aap geloop en gespring. Hy het nooit gekookte kos geëet nie en het geweier om saam met ander kinders te speel of iets met hulle te deel.[7] Hy is in 2005 in 'n brand dood.[8]
  • John Ssebunya van Uganda was 'n kleuter toe sy pa sy ma vermoor en daarna selfmoord pleeg. Hy het saam met ape gaan woon. Twee jaar lank het hy geleer hoe om kos te soek en te reis terwyl die ape hom beskerm het. Op sowat sewe jaar is hy teruggebring na die beskawing. Volgens 'n dorpenaar was sy enigste vorm van kommunikasie om te huil en kos te vra, en was hy 'n "wilde seun" vir wie almal bang was.[9]
 
Dina Sanichar as jong man, omstreeks 1889-1894.

Deur wolwe grootgemaak

wysig
  • Hessiaanse wolwekinders[10][11][12] (1304, 1341 en 1344) het saam met Eurasiese wolwe in die woude van Hesse gewoon.
  • Dina Sanichar is in 1872 op sesjarige ouderdom tussen wolwe ontdek in 'n grot in Sikandra (naby Agra) in Uttar Pradesh, Indië. Hy het vir langer as 20 jaar tussen mense gaan woon en het selfs begin rook, maar het nooit leer praat nie en het sy hele lewe lank erg gestrem gebly.[13][14]
  • Marcos Rodríguez Pantoja (omstreeks 1946, Sierra Morena, Spanje), het 12 jaar lank saam met wolwe in die berge van Suid-Spanje gewoon. Hy is op 19 jaar ontdek.[15] Rodríguez se verhaal is in 2010 in die Spaans-Duitse rolprent Entrelobos vertel. Vir sy uitbeelding van Rodríguez is die jong akteur Manuel Camacho vir 'n Goyaprys vir beste nuwe akteur benoem.

Deur honde grootgemaak

wysig
  • Oksana Malaja was 'n agt jaar oue Oekraïense meisie wat ses jaar lank saam met swart Russiese terriërs gewoon het. Sy is in 1991 saam met honde in 'n hondehok gevind. Sy is deur haar ouers, wat alkoholiste was, verwaarloos. Die driejarige meisie het op soek na vertroosting by die honde op die plaas ingekruip. Sy het meer soos 'n hond as soos 'n mens opgetree. Sy het hande-viervoet geloop, geblaf en haar tande gewys. Die welsyn het haar van haar ouers weggeneem. Sy kon net twee woorde sê: "ja" en "nee".[16] Toe sy groot was, kon Oksana haar hondegedrag beteuel. Sy het vlot en intelligent leer praat[17] en het op die plaas gewerk deur koeie te melk.[18][17] Tog het sy intellektueel gedeeltelik gestrem gebly.[19] Oksana het jare later op 'n Russiese geselsprogram erken haar verhaal was effens minder dramaties. Sy is deur haar ouers verwaarloos en het die honde se geselskap opgesoek; sy het geleer om hulle na te aap omdat hulle meer reaksie as haar ouers getoon het.[20]
  • Iwan Misjoekof, 'n sesjarige seun wat in Reoetof, Rusland, gebore is, is in 1998 deur die polisie uit die sorg geneem van wilde honde, by wie hy twee jaar lank gewoon het. Hy het op vierjarige ouderdom van sy ma en haar mishandelende alkoholis-kêrel weggeloop. Hy het die honde se vertroue gewen deur vir hulle kos te gee en in ruil daarvoor het hulle hom beskerm.[21] Die seun het opgang gemaak totdat hy die trop se dominante figuur ("alfamannetjie") was.[22] Toe die polisie hom ontdek, het hulle hom en die honde in 'n lokval gelei deur kos in die kombuis van 'n restaurant te los.[21] Omdat hy net sowat twee jaar tussen die honde gebly het, het hy taamlik gou weer leer praat.[23] Hy het in die Russiese weermag gedien ná opleiding aan 'n militêre instelling.[23]
  • 'n 10-jarige seun van Chili is gered nadat hy twee jaar lank saam met honde gewoon het. Die seun is op vyfjarige ouderdom deur sy ouers aan sy lot oorgelaat. Nadat hy daarna uit 'n kindersorginrigting ontsnap het, het hy saam met 15 straathonde rondgeloop. Hy het saam met hulle in 'n grot gewoon en kos gesoek, soms in vullisdromme. In 2001 is sy situasie onder die polisie se aandag gebring. Toe die polisie hom probeer red, het hy weggehardloop en in die vrieskoue see gespring. Hy is egter gevang en in die hospitaal opgeneem. Hy was geneig tot depressie en aggressie en hoewel hy kon praat, het hy dit selde gedoen.[24]
  • Traian Căldărar van Roemenië, ook bekend as die "Roemeense hondeseun" of "Mowgli", is in 2002 ontdek. Van sy vierde tot sy sewende jaar het Traian sonder sy familie gelewe. Hy is op sewe jaar gevind en is as 'n driejarige beskryf weens wanvoeding. Sy ma het die gesin verlaat as gevolg van huislike geweld, en Traian het kort daarna weggeloop. Hy het alleen in 'n kartonboks gewoon. Hy het ontsteekte wonde gehad, asook swak sirkulasie en 'n kindersiekte weens 'n tekort aan vitamien D. In 2007 het Traian se oupa vir hom gesorg en het hy goed gevaar in graad drie op skool.[25]
  • Andrei Tolstik (2004) is in 'n afgeleë deel van Siberië deur honde grootgemaak vandat hy drie maande oud was tot op sewejarige ouderdom. Sy ouers het hom verwaarloos omdat hy spraak- en gehoorprobleme gehad het. Welsynwerkers wat hom gekry het, wou uitvind hoekom hy nie by die plaaslike skool ingeskryf is nie. Die seun kon nie praat nie omdat hy 'n gebrek aan menslike interaksie gehad het en het baie hondagtige eienskappe gehad, soos om hande-viervoet te loop, mense te byt en aan sy kos te ruik voordat hy eet.[21]
  • Madina was 'n driejarige meisie wat in 2013 in Rusland gevind is. Sy het van haar geboorte af saam met honde gewoon totdat sy ontdek is. Sy het saam met hulle in die koue geslaap, saam met hulle geëet en met hulle gespeel. Haar pa het die gesin kort ná haar geboorte verlaat en dit het daartoe gelei dat haar ma 'n alkoholis geword en haar verwaarloos het. Toe welsynwerkers haar in 2013 vind, was sy heeltemal nakend en het sy hondegedrag geopenbaar soos om aan bene te kou. Dokters het kort daarna bevestig sy is steeds verstandelik en fisiek kapabel, al is sy feitlik haar lewe lank verwaarloos.[16]

Deur ander diere grootgemaak

wysig
  • 'n 14-jarige seun, ook bekend as "die skaapseun" (2009), is in Kirgisië gevind waar hy al agt jaar lank saam met skape woon. Hy kon nie praat of die toilet gebruik nie. Sy ouers het gaan werk soek en hom in sy ouma se sorg gelaat. Dié het vir hom gesorg totdat sy dood is.[26]
  • Daniel (1990) het ook sowat agt jaar lank in die natuur gewoon. Hy is in die berge van Peru gevind waar hy deur bokke grootgemaak is en hande-viervoet saam met hulle gehardloop het. Hy het bokmelk gedrink en bessies en wortels geëet.[27]
  • 'n Seun met die naam Hadara, ook bekend as "die volstruisseun", is op sowat twee jaar deur sy ouers in die Saharawoestyn agtergelaat, waar hy deur volstruise aangeneem is. Op 12-jarige ouderdom is hy gered en na sy ouers teruggeneem. Hy het later getrou en kinders gehad. Sy storie word dikwels in die westelike Sahara vertel. In 2000 het Hadara se seun Ahmedu sy pa se storie aan die Sweedse skrywer Monica Zak vertel, en sy het dit in boekvorm gepubliseer.[28][29]

Ander aangetekende gevalle

wysig

Nog ’n paar van die ander gevalle wat aangeteken is, is:

  • Jean de Liège. Deur die natuurfilosoof sir Kenelm Digby beskryf in sy boek Two Treatises (1644).
  • Victor van Aveyron (1800). Victor was ’n wilde kind wat 12 jaar lank in die woude van Aveyron gewoon het. Die onderwerp word met ’n sekere mate van realisme behandel in François Truffaut se rolprent van 1970 L’Enfant Sauvage. Dit handel oor ’n wetenskaplike se gesukkel om ’n wilde seun te rehabiliteer.[30]
 
Kaspar Hauser.
  • Marie-Angélique Memmie Le Blanc was ’n beroemde wilde kind van die 18de eeu in Frankryk. Sy was onder andere bekend as die "wilde meisie van Champagne". Marie-Angélique het 10 jaar lank, van 10 tot 19 jaar, in die woude van Frankryk oorleef voordat dorpenaars in Songy in Champagne haar in September 1731 gevang het. Sy is in 1775 in Parys dood. Volgens dokumente het sy as volwassene leer lees en skryf, ’n unieke kenmerk onder wilde kinders.
  • Hany Istók, ook bekend as Steve van die Moeras van Kapuvár, Hongarye (1749). Volgens dokumente wat in Kapuvár gebêre word, het twee vissermanne ’n kind in ’n moerasagtige woud aan ’n meer ontdek. Hy is na Kapuvár gebring, waar hy gedoop is en die naam Steven gekry het. Die plaaslike goewerneur het hom na sy kasteel geneem en probeer opvoed, maar die seun het eindelik ontsnap en terug na die woud gehardloop. Later het talle volksvertellings oor die seun ontstaan, waarin hy uitgebeeld is as halfvis, halfmens.[31]
  • Kaspar Hauser (vroeë 19de eeu), uitgebeeld in die rolprent van 1974 deur Werner Herzog The Enigma of Kaspar Hauser (Jeder für sich und Gott gegen alle).[32] Hy het bestaan, maar sy eie verhaal oor sy isolasie was dalk ’n bedrogspul.
  • Ramachandra (1970's en 1980's). Daar is in 1973 die eerste keer oor hom berig in die Indiese staat Uttar Pradesh. Hy was rofweg 12 jaar oud en het ’n amfibiese leefstyl in die Kuwanorivier gelei. Hy is in 1979 gered en na ’n nabygeleë dorp geneem. Hy het net gedeeltelik by ’n konvensionele leefstyl aangepas en het steeds rou kos verkies, met ’n vreemde houding geloop en die meeste van sy tyd alleen in nabygeleë riviere en strome deurgebring. Hy is in 1982 dood nadat hy ’n vrou genader het wat vir hom geskrik en hom lelik met kookwater verbrand het. Die historikus Mike Dash[33] glo Ramachandra was seksueel tot die vrou aangetrokke en het haar trompop geloop omdat hy nie die morele waardes en taboes geken het nie.
  • Ho Van Lang (2013) is in Quang Ngai, Viëtnam, gevind. Sy pa, Ho Van Thanh, het hom na die woud geneem (en sy broer, Ho Van Tri, agtergelaat) om van die oorlog te vlug. Hier het hy vier dekades lank in isolasie gewoon. Toe hy ontdek is, kon hy skaars praat, buiten ’n paar woorde in die plaaslike dialek van die Cor-minderheidgroep.[34] Volgens sy broer is hy wat ontwikkeling betref op die vlak van ’n kind en kan hy nie goed van kwaad onderskei nie.[35]

Bedrog

wysig

In Maart 2008, ná die bekendmaking dat Misha Defonseca se topverkoperboek, waarvan later die rolprent Survivre avec les loups ("Oorlewing saam met die wolwe") gemaak is, ’n bedrogspul was, was daar ’n debat in die Franse media[36][37] oor die aantal onware gevalle van wilde kinders wat onvoorwaardelik geglo word. Hoewel daar baie boeke oor die onderwerp is, is feitlik geeneen van hulle op argiewe gegrond nie: Die skrywers het eerder twyfelagtige tweede- en derdehandse gedrukte inligting gebruik. Volgens die chirurg Serge Aroles, skrywer van ’n algemene studie van die verskynsel van wilde kinders wat op argiewe geskoei is,[38] is baie bewerings van wilde kinders vals:

  • Die "tiener van Kronstadt" (1781)[10][11][39] – volgens die Hongaarse dokument wat Aroles gepubliseer het, is dié geval ’n bedrogspul. Die seun, wat verstandelik gestrem was, het ’n skildkliergeswel gehad en is vir geld uitgestal.
  • Die "Siriese gaselseun" (1946) – ’n seun van sowat 10 jaar oud is glo in die 1950's in die Siriese woestyn tussen ’n trop wildsbokke gevind. Hy is net gered met die hulp van ’n jeep van die Irakse weermag, want hy kon tot 50 km/h hardloop. Dit was egter waarskynlik ’n vals storie, soos verskeie ander stories oor gaselseuns.
  • Amala en Kamala – die meisies is na bewering in 1920 deur sendelinge in Indië gevind. Later is bewys dit was ’n versinsel van eerwaarde Singh om geld vir sy kinderhuis in te samel.[38] Geleerdes van Japan en Frankryk het ’n nuwe ondersoek na Amala en Kamala ingestel en die bevindings van Serge Aroles 20 jaar tevore bekragtig: Die storie was ’n bedrogspul.[40]
  • Ramu, Lucknow, Indië (1954) – ’n Meisie is glo as baba deur ’n wolf aangeneem en tot op sewejarige ouderdom in die woud grootgemaak.[41] Aroles het ondersoek ingestel en dit as nog ’n versinsel ontmasker.
  • Die "beermeisie van Krupina", Slowakye (1767)[10][11] – Aroles kon geen teken van haar in argiewe vind nie.

Legendes en fiksie

wysig

In mites, legendes en fiksie word kinders uitgebeeld wat deur wilde diere soos wolwe, ape en bere grootgemaak is. Beroemde voorbeelde sluit in Romulus en Remus, Rudyard Kipling se Mowgli en Edgar Rice Burroughs se Tarzan.

 
Die wolvin waaraan Romulus en Remus gedrink het.

Volgens die legende oor die stigting van die stad Rome het Romulus en Remus, die tweelingseuns van Rhea Silvia en die god Mars, aan 'n wolvin gedrink. Rhea Silvia was 'n Vestaalse maagd en toe dit bekend word dat sy swanger was en kinders gehad het, het haar oom koning Amulius, wat sy broer se troon oorgeneem het, opdrag gegee dat sy lewend begrawe word en haar kinders doodgemaak word.

Die dienskneg wat hulle moes doodmaak, het hulle in 'n mandjie op die Tiberrivier geplaas en die riviergod het hulle na die rivieroewer geneem, waar die wolvin hulle ontdek en grootgemaak het totdat 'n herder met die naam Faustulus hulle as kleuters ontdek het. Hy en sy vrou kon nie kinders hê nie en hulle het die tweeling grootgemaak.

Hulle sou later 'n groot rol speel in die stigting van Rome.[42]

Legendariese en fiktiese kinders word dikwels uitgebeeld as dat hulle relatief normaal en intelligent is en 'n ingebore sin vir kultuur en die beskawing het, asook 'n goeie dosis oorlewingsinstinkte. Hulle word gewoonlik taamlik maklik in die beskawing opgeneem.

Verwysings

wysig
  1. Mihai, Andrei (1 Desember 2014). "Mind Blowing Cases of Children Raised by Animals". ZME Science. Besoek op 20 Februarie 2015.
  2. Bettelheim, Bruno (Maart 1959). "Feral Children and Autistic Children" (PDF). American Journal of Sociology. 64 (5): 455–467. doi:10.1086/222541. JSTOR 2773433. S2CID 144015209. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 8 Augustus 2021. Besoek op 8 Augustus 2021.
  3. Susan Curtiss (10 Mei 2014). Genie: A Psycholinguistic Study of a Modern-Day Wild Child. Elsevier Science. p. 207. ISBN 978-1-4832-1761-1.
  4. "Feral children". Encyclopedia Britannica. 
  5. Hattenstone, Simon (13 April 2013). "Was Marina Chapman really brought up by monkeys?". The Guardian. Besoek op 4 November 2017.
  6. "Raised by monkeys, struggling to be human". New Vision. 17 Februarie 2013. Besoek op 4 November 2017.
  7. "Child of the wild still spurns life as a human". Mail and Guardian. 21 November 1997. Besoek op 4 November 2017.
  8. Mysteriesrunsolved (25 Junie 2018). "Saturday Mthiyane | The Child Of The Wild | KwaZulu Natal". Mysteriesrunsolved. Besoek op 1 September 2019.
  9. "Raised in the wild: tales of survival". The Independent (in Engels (VK)). Besoek op 2 Julie 2018.
  10. 10,0 10,1 10,2 Rauber, August Antinous (1888). Homo sapiens ferus: oder, die Bustände der verwilderten und ihre bedeutung für wissenschaft, politik und schule. Leipzig: Julius Bregse.
  11. 11,0 11,1 11,2 Chamberlain, Alexander F. (1896). "The Child and Childhood in Folk-Thought". Science. Macmillan and Co. 3 (74): 813–4. Bibcode:1896Sci.....3..813C. doi:10.1126/science.3.74.813-a. PMID 17768950. Besoek op 8 Februarie 2018.
  12. Fantini, Alvino. Language Acquisition of a Bilingual Child: A Sociolinguistic Perspective (To Age Ten). VK: Multilingual Matters, 1985.
  13. Malson, Lucien (1972). Wolf children and the problem of human nature. New York en Londen: Monthly Review Press. p. 45. ISBN 9780902308244.
  14. Zingg, Robert M. (1940). "Feral man and extreme cases of isolation". The American Journal of Psychology. 53 (4): 487–517. doi:10.2307/1417630. JSTOR 1417630.
  15. Lupine Lore by Walter Tarello
  16. 16,0 16,1 Macdonald, Fiona. "Feral: The children raised by wolves" (in Engels). Besoek op 2 Julie 2018.
  17. 17,0 17,1 Channel Ukraine. "Oxana Malaya on Ukrainian TV show".
  18. Grice, Elizabeth (17 Julie 2006). "Cry of an infant savage". Daily Telegraph. Londen. Besoek op 14 Julie 2007.
  19. У героини публикации «фактов» оксаны малой, которая выросла в… Собачьей конуре, нашлись родной брат и маленькая племянница, тоже оксана – 2003-opvolgartikel in Fakti i kommentariji (in Oekraïens).
  20. Grice, Elizabeth (19 Junie 2020). "Cry of an enfant sauvage". The Telegraph (in Engels (VK)). ISSN 0307-1235. Besoek op 21 Junie 2021.
  21. 21,0 21,1 21,2 "Siberian boy, 7, raised by dogs after parents abandoned him". The Independent (in Engels (VK)). Besoek op 2 Julie 2018.
  22. Osborn, Andrew (4 Augustus 2004). "Siberian boy, 7, raised by dogs after parents abandoned him". The Independent. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Julie 2013. Besoek op 20 Mei 2013.
  23. 23,0 23,1 Channel Ukraine. "Raised by Dogs. Ukrainian TV show".
  24. "'Dog Boy' of Chile Rescued". ABC News (in Engels). 6 Januarie 2006. Besoek op 2 Julie 2018.
  25. "Modern day Feral children". Sociologychis (in Engels (VSA)). 12 Mei 2016. Besoek op 2 Julie 2018.
  26. Fagge, Nick (6 November 2009). "Boy raised by sheep for 8 years". Express.co.uk (in Engels). Besoek op 2 Julie 2018.
  27. Hussain, Fida (8 April 2017). "Raised by animals". DAWN.COM (in Engels (VSA)). Besoek op 2 Julie 2018.
  28. Zak M, Pojken som levde med strutsar, Opal Förlag, 2003.
  29. Zak M, "Möte med Hadaras son Geargiveer 8 Augustus 2021 op Wayback Machine", Västsahara, nr. 3-4/2001 (in Sweeds).
  30. Gillain, Anne (2013). François Truffaut : The Lost Secret. Vertaal deur Fox, Alistair. Indiana University Press (Ind.). p. 215. ISBN 9780253008459. OCLC 897470428.
  31. [1], "Hany Istók legendája" (Legende van Hany Istók)
  32. Brian Haughton. "The Unsolved Mystery of Kaspar Hauser – Wild Child of Europe". Mysterious People. Besoek op 14 Julie 2007.
  33. Dash, Mike Borderlands: The Ultimate Exploration of the Unknown; Overlook Press, 2000, ISBN 0-87951-724-7.
  34. "Man and son found in jungle after 40yrs". The Bangkok Post. 9 Augustus 2013. Besoek op 19 November 2020.
  35. "The Vietnamese Tarzan". 16 Maart 2017. Besoek op 19 November 2020.
  36. "Survivre avec les loups : la supercherie". Lefigaro.fr. Besoek op 6 Maart 2014.
  37. Shields, Rachel (1 Maart 2008). "Adopted by wolves? Bestselling memoir was a pack of lies". The Independent. Besoek op 6 Maart 2014.
  38. 38,0 38,1 Aroles, Serge (2007). L'énigme des enfants-loups : une certitude biologique mais un déni des archives, 1304-1954. Paris: Publibook. ISBN 978-2-7483-3909-3.
  39. Deal, Bama Lutes (1 April 2005). "Chapter 2: Feral Children and Wranitzky's Pantomime-Ballet Das Waldmädchen (1796)" (PDF). The Origin and Performance History of Carl Maria von Weber's Das Waldmädchen (1800). Florida State University. p. 16. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 1 Julie 2007. Besoek op 18 Junie 2007.
  40. Suzuki, Kotaro; Vauclair, Jacques (2016). De quelques mythes en psychologie : Enfants-loups, singes parlants et jumeaux fantômes (in Frans). Le Seuil. ISBN 9782021103663.
  41. "Naked man deepens mystery of jungle girl". The Sydney Morning Herald. 22 Januarie 2007. Besoek op 14 Julie 2007.
  42. Plutarch. "Romulus". John Dryden (vertaler). Besoek op 29 November 2009.

Bibliografie

wysig

Skakels

wysig