Gaan na inhoud

Lwif

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Львів • L'viv
Lemberg • לעמבערג

Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Oekraïne Oekraïne
 Oblast Lwif
 Stigting 1256
 Stadstatus 1356
 Oppervlakte:  
 - Totaal 148,9 vk km
 Hoogte bo seevlak 296 m
 Bevolking:  
 - Totaal (2021) 717 486
 - Bevolkingsdigtheid 4 800/vk km
 Tydsone UTC +2 (OET)
 - Somertyd UTC +3 (OEST)
 Burgemeester Andri Sadowyj
 Amptelike webwerf city-adm.lviv.ua

Lwif, Lviv, Lvov of Lemberg (Oekraïens: Львів, [lʲʋiu̯], ; Pools: Lwów; Russies: Львов; Duits: Lemberg; Jiddisj: לעמבערג) is 'n stad in die weste van die Oekraïne en die administratiewe sentrum van die gelyknamige oblast. Met 'n bevolking van sowat 717 000 is Lwif die sewende grootste stad in Oekraïne. Die historiese stadskern van Lwif is in 1998 deur Unesco as wêrelderfenisgebied gelys. Lwif was een van die gasheerstede tydens die Europese Sokkerkampioenskap 2012 wat Oekraïne en Pole saam aangebied het.

Die ou stad van Lwif
St. Joris-katedraal
Lwów-Boim Kapel

Die geskiedenis van Lwif is deur die eeue deur die naasbestaan van verskillende Europese kulture gekenmerk. Alhoewel die eerste Slawiese nedersettings in die gebied al in die 10de eeu ontstaan het, is die huidige stad eers in die middel van die 13de eeu gestig. Die noordweste van die huidige Oekraïne is destyds deur die Woliniese vors Daniël geregeer wat die nedersetting na sy seun Lef ("Leeu") vernoem het. Lwif voer steeds 'n leeu in sy stadswapen.

Vanaf die 13de eeu het Lwif danksy sy ligging by die kruispunt van belangrike handelsroetes vinnige groei getoon. Handelaars en sakelui uit Wrocław (Breslau), Krakau, Praag, Turyn en ander metropole het hier byeengekom. In 1356 het Lwif stadstatus volgens die Maagdenburgse Reg gekry.

Lwif het toe net soos die Bieszczady al deel uitgemaak van die Poolse magsgebied nadat die Poolse koning Kazimierz Wielki (Kasimir die Grote) hierdie gebiede enkele jare tevore verower het. In 1387 het die Poolse kroon Lwif volledig as Poolse besitting erken. Kazimierz se regentskap was in ekonomiese opsig deur 'n beleid van vrye handel gekenmerk waaruit ook Lwif voordeel kon trek. In sy bloeitydperk gedurende die 15de en 16de eeu het Pole, Duitsers, Oekraïners, Armene en Jode hul kulturele en godsdienstige stempel op die stad gedruk wat tot een van die grootste en welvarendste metropole in Oos- en Sentraal-Europa ontwikkel het. Die verskeidenheid kulture word in die verskillende name weerspieël waarmee die etniese groepe na hul stad verwys het.

Ondanks sy groot anderstalige minderhede het Lwif vanaf die 15de eeu 'n sterk Poolse karakter gekry. As 'n Poolssprekende eiland in Oekraïne het Lwif, wat reeds in die 14de eeu die setel van 'n Rooms-Katolieke aartsbiskop geword het, as Pole se poort tot die ooste gefungeer. Die plaaslike boukuns is net soos in ander Poolse metropole deur adellikes en welvarende burgers oorheers wat pragtige paleise in die Renaissance-styl laat oprig het.

In die 17de eeu is Lwif deur Tartare en Kosakke-leërs onder bevel van Bogdan Chmielnicki, in die vroeë 18de eeu deur Sweedse troepe onder koning Karel XII beleër. Hierdie oorlogshandelinge het groot ekonomiese skade berokken. Nogtans het die Poolse koning Jan II Kazimierz in 1661 die eerste universiteit in Lwif gestig.

As gevolg van die Poolse Delinge het die stad in 1772 onder Oostenrykse bewind gekom om voortaan as hoofstad van Galisië te fungeer. Die Oostenrykse kroon het in 1867 selfregering aan die Poolse stadsregering toegestaan sodat Pools, en nie Duits nie, as ampstaal gebruik is. Die tweede helfte van die 19de eeu was deur modernisering van die infrastruktuur gekenmerk: in 1858 is gaslampe as straatbeligting geïnstalleer, in 1878 is die plaaslike rioleringstelsel gebou en in 1894 die eerste elektriese trem in bedryf gestel.

In die laat 19de eeu het steeds meer nasionalistiese strominge na vore gekom, en die kwessie van selfbeskikking en onafhanklikheid het die politieke debat binne die Oekraïense bevolking begin oorheers. Ná die val van die Oostenryks-Hongaarse monargie aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog het Lwif die hoofstad van 'n kortstondige Wes-Oekraïense Volksrepubliek geword. Poolse troepe het die stad en sy omgewing ondanks felle weerstand in 1919 terugverower. Hierdie militêre optrede, waartydens Pole en Oekraïners swaar verliese gely het, het die betrekkinge tussen die twee etniese groepe dekades lank vertroebel.

Susterstede

[wysig | wysig bron]

Die stad onderhoud bande met die volgende vyf Poolse stede:

Nie-Poolse susterstede:

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]

Media