Gaan na inhoud

Skerpioen

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Skerpioene stuur hierheen aan. Vir die ontbinde vervolgingsagentskap, sien Direktoraat van Spesiale Operasies.
Skerpioen
Tydperk: Vroeë Siluur – tans 430–0 m. jaar gelede
Hottentotta tamulus van Indië.
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk: Animalia
Filum: Arthropoda
Subfilum: Chelicerata
Klas: Arachnida
Subklas: Dromopoda
Orde: Scorpiones
Koch, 1837
Superfamilies
  • Buthoidea
  • Chaeriloidea
  • Chactoidea
  • Iuroidea
  • Pseudochactoidea
  • Scorpionoidea

Skerpioene is geleedpotige roofdiere van die biologiese orde Scorpiones in die klas Arachnida. Hulle het agt pote[1] en word maklik uitgeken aan hul paar knypers en die smal, gesegmenteerde stert wat dikwels kenmerkend vooroor oor die rug gekrul is en in ’n giftige angel eindig. Skerpioene wissel in grootte van 9 mm (Typhlochactas mitchelli) tot 20 cm (Hadogenes troglodytes).[2]

Die evolusiegeskiedenis van skerpioene strek terug na die Siluur, sowat 430 miljoen jaar gelede. Hulle het by ’n groot reeks omgewingstoestande aangepas en word nou op al die kontinente behalwe Antarktika aangetref. Daar is sowat 1 750 spesies wat beskryf is,[3] met 13 lewende families wat tans erken word. Net 25 van hierdie spesies het sover bekend gif wat mense kan doodmaak.[4]:1 Die taksonomie het veranderings ondergaan en sal na verwagting verder verander wanneer genetiese studies nuwe inligting voortbring.

Angel van ’n Arizona-skerpioen.

Die woord "skerpioen" het vermoedelik ontstaan uit die Latynse woord scorpius,[5] wat weer van die Griekse woord σκορπίος, skorpíos afgelei is.[6]

Algemeen

[wysig | wysig bron]

Hulle is 'n nagdiere en hou in warm, droë gebiede, soos die westelike gedeeltes van Suider-Afrika. Die skerpioen is veral bekend vanweë die gifangel op die stert, en hoewel die giftigheid daarvan van spesie tot spesie wissel, kan die gif van sommige spesies selfs die mens se dood veroorsaak.

Skerpioene het 'n baie kenmerkende manier van voortplanting en die meeste spesies is ovovivipaar (die eiers broei in die wyfie se liggaam uit). Skerpioene (orde Scorpiones) is geleedpotige diere (phylum Arthropoda). Hulle behoort saam met ʼn aantal ander ordes, waaronder die spinnekoppe en myte, tot die klas van spinnekopagtiges (Arachnida), wat op sy beurt weer tot die subphylum Chelicerata (diere met kloukake) behoort.

Skerpioene is volgens die fossielerekord die oudste landlewende geleedpotiges. Die eerste skerpioene het tydens die Siluur as waterlewende diere met kieue bestaan, maar hulle het die eerste keer tydens die Devoon op land verskyn. Skerpioene het gedurende hul evolusie 'n aantal eienskappe oorgehou wat in vergelyking met die van ander spinnekopagtiges minder gespesialiseer is.

Lede van die subphylum Chelicerata verskil van die ander geleedpotiges daarin dat hulle nie antennae het nie, maar 'n paar tangvormige aanhangsels, die chelicerae, wat aan die voorpunt van die liggaam geleë is. Skerpioene se liggame word in 2 gedeel en die voorste gedeelte word die prosoma (kopborsstuk) genoem, terwyl die agterste gedeelte as 'n opisthosoma (agterlyf) bekend staan.

'n Aparte kop- en borsgedeelte kan nie op die prosoma onderskei word nie. Die gedeelte dra saam met die chelicerae aan sy voorpunt ook 'n paar kaakpote (pedipalpi), wat sterk knypers aan hul punte het. Skerpioene het, soos die ander spinnekopagtiges, 4 paar looppote, wat op die prosoma geleë is. Die prosoma word aan die dorsale kant (bokant) deur 'n karapaks of skiId bedek.

Die opisthocoela bestaan uit 2 duidelike onderafdelings. Die voorste gedeelte word die mesosoma (preabdomen) genoem en dit bestaan uit 7 breë segmente. Die metasoma (postabdomen) is die tweede gedeelte en dit het 5 kleiner en ronder segmente. Die struktuur is ook as die stert bekend en skerpioene dra dit kenmerkend na vore gebuig. Hul laaste segmente is ook van 2 gifkliere voorsien wat in ʼn angel open.

Skerpioene se chelicerae en pedipalpi is besonder sterk en goed ontwikkel. Die diere is doeltreffende roofdiere en hulle leef van insekte, spinnekoppe, ander geleedpotiges, soms klein reptiele en knaagdiere. Indien die prooi relatief groot is, word die slanke metasoma na vore gebuig en word die prooi met die dodelike angel gesteek. Daarna word die prooi met behulp van die chelicerae in stukkies geskeur en die sagte dele word deur die mond na binne gesuig.

'n Paar oë word mediaal bo-op die rugskild aangetref, terwyl 'n bykomende ry aan weerskante van die prosoma voorkom. Die diere is ook baie gevoelig vir vibrasies vanweë tassensitiewe sintuie wat aan die onderkant van die tweede abdominale segment, weerskante van die geslagsopening, in kamvormige uitsteeksels (pekten) voorkom. Die sintuie word veral gebruik om vibrasies in die grond op te vang. Die tweede mesosomale segment huisves die geslagsopening, terwyl daar op elk van die volgende 4 segmente 'n paar asemhalingsopeninge aangetref word.

Die asemhalingsplete (stigmata) lei tot die boeklonge, wat die skerpioen se gaswisselingsorgaan is. Skerpioene is eenslagtig en hul voortplantingsgedrag is baie opvallend, met veral 'n uitgebreide, kenmerkende voorspel. Tydens die voorspel, wat tot etlike dae kan duur, hou die mannetjie die wyfie met sy knypers vas terwyl hulle ʼn sogenaamde paringsdans uitvoer. Elke spesie het sy eie danspatroon, maar in al die spesies produseer die mannetjie na 'n tyd 'n pakkie saadselle (spermatofoor) en plaas dit op die grond.

Die mannetjie loop nou agteruit en trek die wyfie oor die saadpakkie totdat haar geslagsopening daaroor geleë is. Die saadpakkie word dan in die wyfie se liggaam opgeneem sodat haar eiers bevrug kan word. Indien die mannetjie te lank in die omgewing van die wyfie vertoef, kan sy hom aanval en opeet. Die meeste skerpioene se eiers broei binne die wyfie uit (ovoviviparie), terwyl sommige spesies vivipaar is. In die gevalle word die eier se dop kort na bevrugting gebreek en die skerpioen-embrio's verkry hul voedsel deur ʼn buisvormige struktuur wat aan die wyfie se spysverteringskanaal geheg is.

Nadat die kleintjies gebaar is, klouter hulle op die moeder se rug, waar hulle deur haar metasoma beskerm word totdat hulle groot genoeg is om vir hulself te sorg. Daar is ongeveer 1 600 lewende skerpioenspesies bekend en die grootste verteenwoordiger van die orde is tot 18 cm lank. Die meeste spesies is egter heelwat kleiner.

Skerpioene hou veral in droë, warm gebiede, waar hulle oordag in splete, holtes of onder klippe skuil. Daar word ongeveer 150 spesies in Suider-Afrika aangetref. Die meeste skerpioene se gif is slegs vir invertebrate (ongewerweldes) skadelik en dit het byna geen nadelige gevolge vir die mens nie. Sommige spesies, soos die van die Noord-Amerikaanse genus Androctonus, se gif is vir mense gevaarlik. Die gif van die Saharaskerpioen (Androctonus australis) is net so dodelik soos die van kobras.

Verspreiding

[wysig | wysig bron]

Skerpioene word op alle groot landmassas behalwe Antarktika aangetref. Hulle is in groot dele van die wêreld deur handel versprei.[4]:249 Die grootste voorkoms van skerpioene in die Noordelike Halfrond is in die subtropiese streke tussen die breedtegrade 23°N en 38°N. Bo hierdie breedtegrade neem die voorkoms af; hulle kom nie verder noord as Kanada voor nie.[4]:251

Hulle word in bome, grotte, sand en op die grond aangetref; sommige spesies kom in verskeie habitats voor, terwyl ander spesifieke nisse bewoon.[7]

Klassifikasie

[wysig | wysig bron]
’n Skerpioen se morfologie:
1 = Kopborsstuk;
2 = Onderlyf;
3 = Stert;
4 = Kloue
5 = Pote;
6 = Monddele;
7 = Knypers;
8 = Beweegbare knyper;
9 = Vaste knyper;
10 = Angel;
11 = Telson (ná die anus).

Daar is 13 families en sowat 1 750 spesies skerpioene. Daar is ook 111 taksa uitgestorwe skerpioene.[8]

Die volgende klassifikasie van oorlewende skerpioene is geskoei op dié van Soleglad & Fet (2003),[9] wat die ouer, ongepubliseerde klassifikasie van Stockwell[10] vervang het. Bykomende veranderings kom uit geskrifte van Soleglad et al. (2005).[11][12]

Orde Scorpiones
  • Infraorde Orthosterni Pocock, 1911
    • Parvus Pseudochactida Soleglad et Fet, 2003
    • Parvus Buthida Soleglad et Fet, 2003
      • Superfamilie Buthoidea C.L. Koch, 1837
        • Familie Buthidae C.L. Koch, 1837 (dikstertskerpioene)
        • Familie Microcharmidae Lourenço, 1996
    • Parvus Chaerilida Soleglad et Fet, 2003
      • Superfamilie Chaeriloidea Pocock, 1893
        • Familie Chaerilidae Pocock, 1893
    • Parvus Iurida Soleglad et Fet, 2003
      • Superfamilie Chactoidea Pocock, 1893
        • Familie Chactidae Pocock, 1893
        • Familie Euscorpiidae Laurie, 1896
        • Familie Superstitioniidae Stahnke, 1940
        • Familie Vaejovidae Thorell, 1876
      • Superfamilie Iuroidea Thorell, 1876
        • Familie Caraboctonidae Kraepelin, 1905 (harige skerpioene)
        • Familie Iuridae Thorell, 1876
      • Superfamilie Scorpionoidea Latreille, 1802
        • Familie Bothriuridae Simon, 1880
        • Familie Hemiscorpiidae Pocock, 1893 (rotsskerpioene, boomskerpioene)
        • Familie Scorpionidae Latreille, 1802 (bleekpootskerpioene)

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "Scorpion Facts And Information" (in Engels). ScorpionWorlds. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Mei 2020. Besoek op 19 Februarie 2015.
  2. Edward E. Ruppert, Richard S. Fox, Robert D. Barnes (2004). Invertebrate Zoology. Brooks/Cole. ISBN 978-81-315-0104-7.{{cite book}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
  3. František Kovařík (2009). "Illustrated catalog of scorpions, Part I" (PDF). Besoek op 22 Januarie 2011.
  4. 4,0 4,1 4,2 Gary A. Polis (1990). The Biology of Scorpions. Stanford University Press. ISBN 978-0-8047-1249-1.
  5. "Scorpion". Dictionary.com. Random House. URL besoek op 14 April 2010. 
  6. σκορπιός, Henry George Liddell, Robert Scott, A Greek-English Lexicon, op Perseus.
  7. Gordon Ramel. "The Earthlife Web: The Scorpions" (in Engels). The Earthlife Web. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2019. Besoek op 8 April 2010.
  8. Jason A. Dunlop; David Penney; O. Erik Tetlie and Lyall I. Anderson (2008). "How many species of fossil arachnids are there". Journal of Arachnology. 36 (2): 262–272. doi:10.1636/CH07-89.1.{{cite journal}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
  9. Michael E. Soleglad and Victor Fet (2003). "High-level systematics and phylogeny of the extant scorpions (Scorpiones: Orthosterni)" (multiple parts). Euscorpius. 11: 1–175. Besoek op 13 Junie 2008.
  10. Scott A. Stockwell (1989). Revision of the Phylogeny and Higher Classification of Scorpions (Chelicerata). Ph.D. Dissertation, University of California, Berkeley
  11. Michael E. Soleglad; Victor Fet & F. Kovařík (2005). "The systematic position of the scorpion genera Heteroscorpion Birula, 1903 and Urodacus Peters, 1861 (Scorpiones: Scorpionoidea)" (PDF). Euscorpius. Marshall-universiteit. 20: 1–38. Besoek op 13 Junie 2008.{{cite journal}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
  12. V. Fet and E. Soleglad (2005). "Contributions to scorpion systematics. I. On recent changes in high-level taxonomy" (PDF). Euscorpius. Marshall-universiteit (31): 1–13. ISSN 1536-9307. Besoek op 7 April 2010.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]